Spruit

Klik hier vir foto's

Verlede jaar het ouens by die sopkombuis teenoor Patrick Mengoai die behoefte uitgespreek dat hulle ‘n kerk wil bywoon. Omdat die meeste van hulle uit Spruit kom, het dit sin gemaak om daar kerk te hou. Spruit is ‘n “informal settlement” (agter Sunderland Ridge industriële gebied, noord van Monavoni en Mnandi) wat geen infrasruktuur het nie. Water word daagliks aangery. Die inwoners weet dat hulle tydelik daar woon omdat die grond aan ‘n ontwikkelaar verkoop is. Daar is reeds huise vir die eerstes van hulle in Olievenhoutbosch gebou, maar dit is dadelik betrek deur mense van Olievenhoutbosch wat ook in plakkershutte woon en meen dat hulle eerste aanspraak daarop het. Wat die definisie van tydelik hier is, is moeilik om te bepaal.

Die ‘pastor’ van ‘n ander denominasie het die gebruik van hul gebou op ‘n Sondagmiddag van 2uur af tot hul beskikking gestel, maar teen die tyd was die bure al dronk en rumoerig en die sokkerwedstryd naby in volle swang. ‘n Ander plek en tyd moet dus gevind word. In tussen is 3 mans gedoop en hulle en 11 ander het hul geloof bely. Die bywoningsyfer is by die vyftig.

Patrick het ‘n visie dat dit wat op Sondag kerkgebou is, in die week as kleuterskool moet dien. Deur gesprekke met gemeenskapsleiers het Patrick die reg gekry om ‘n stuk grond te gebruik, wat by nader ondersoek ‘n ou gestroopte plaasskool insluit wat bruikbaar gemaak kan word!

Ons het hier onder ‘n soort beplanning saamgestel op grond waarvan ons dink die proses behoort te verloop. Die predikante het ingestem dat die gemeente ingelig moet word oor die projek sodat mense ‘n kans kan kry om deel te neem.

Ons het die volgende beroep op die gemeente gedoen:

Ds Ferdie het verlede week verduidelik dat ons moet sorg dat daar ‘n uitloop vanuit ons gemeente is sodat ons ‘n helder poel kan wees. Die HERE het vir ons so ‘n kanaal gegee in die vorm van die kerk in Spruitkerk plakkerskamp.

Patrick Mengoai die stigter-herder van die Spruitkerk het by die gemeenskapsleiers toestemming gekry om ‘n ou gebou te gebruik, wat waarskynlik ‘n ou plaasskool is. Met geld wat ‘n kleingroep in ons gemeete ingesamel het en geld wat van ds Andre Jansen se gemeente in Nederland kom, kon ‘n dak opgerig en ‘n betonblad gelê word. Dit vorm die ruimte waar hulle kerk kan hou. Maar hulle kort stoele voordat hulle daar ‘n diens kan hou. Baie van julle het dalk ‘n paar ou plastiese tuinstoele of so wat hier ‘n verskil kan maak. As jy dit hiernatoe kan bring, sal ons vervoer na  Spruit toe reel. Daar moet eers so gou moontlik ‘n vertrek ingerig word sodat die stoele veilig sal wees.

Patrick het ‘n visie dat hy by die kerk met ‘n kleuterskool moet begin om die kinders van kleins af reg te leer, en om die ouers en gemeenskap te bereik.

Om die res van die gebou as kleuterskool in te rig, word ‘n paar goed benodig, soos duidelik te sien is. Daar word 6 tot 8 deurkosyne met buitedeure (soliede hout of staal) benodig, ons het reeds al die binnedeure geskenk gekry. Daar word 16 vensters benodig. Die gate is vir vensters van 120cm hoog en 90cm breed. As jy of die bure langs jou wat verbou ‘n  staalvenster het om weg te gee wat ander afmetings het, is ek seker die bouers sal ‘n plan daarmee kan maak. Verder word heelwat sinkplate benodig om die klaskamers toe te maak. Daar word ook veiligheidsheinings en hekke benodig.  As u van die goed wil skenk kan u dit  na die kerk toe bring of as u dit nie self kan bring nie kan gereel word dat dit by u huis opgelaai word.

As iemand ‘n sak sement teen R60 wil borg, sal dit waardeer word. Enige geldelike donasie sal goed van pas kom. U kan ‘n koevert met ‘Spruit’ merk en dit in die kollektesakkie gooi.

As iemand aan ‘n maatskappy verbonde is wat by so ‘n gemeenskapprojek betrokke wil raak, kan u ook laat weet omdat ons ‘n borg soek wat ‘n heining rondom die gebou kan oprig.

Die resultaat was verstommend! Talle mense het direk na die diens vensters, deure en sink aangebied, asook tuinstoele. Tydens die aanddiens het iemand my R600 in die hand gestop vir sement. Later die week gee iemand my haar kinders se telefoonnommers want hulle het ook goed om te gee. Baie dankie aan almal wat bygedra het en dit nog gaan doen. Lees asb verderaan meer hieroor.

Maar dan gebeur die verstommendste: God het iets nog veel groters in gedagte gehad. ‘n Senior werknemers by ‘n bekende konstruksiemaatskappy stuur iemand om te kom kyk en onderneem om al die vensters en deure in te sit, die dak op te sit, en ‘n heining rondom te span! Omdat hulle werk in die omgewing einde September afgehandel is, sal hulle die werk voor die tyd afhandel!  Dis dan wanneer ons saam met Paulus wil uitroep: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.”  (Ef 3:20,21)

As ons miskien sou wonder of God die projek wil seën, twyfel ons nou nie meer nie! Die aanbod van die maatskappy los ook nog die probleem op wat sou opduik as ons goed na die perseel moes vervoer en dit laat oppas voordat dit ingebou kan word. As u goedere aanbied/ aangebied het en dit nog steeds wil skenk, kan ons dit aan soortgelyke doeleindes skenk. U sal weer van ons hoor! Bestudeer die visie hieronder en laat gerus van u hoor!

Ons is dankbaar om te kan sê dat die lys al besig is om korter te word…

Die volgende fase sal die verf en meubilering insluit. Enige idees, voordstelle, aanbiedinge?

Kontakbesonderhede: Ona van Nieuwenhoven 012 6601366 / 0836486533, onavn@telkomsa.net

Visie vir ‘n Kleuterskool te Spruit

Doelwitte:

Om ‘n kleuterskool daar te stel vir kinders van 3 jaar tot voorskool waar hulle begelei kan word om in die Lig van die Waarheid te wandel en om na die ouers en res van die gemeenskap uit te reik met dieselfde evangelie van verlossing.

Metode:

Om ‘n lewende monument ter verering van God se genade op te rig en in stand te hou met die advies, hulp en finansiele bystand van nabygeleë gemeentes en bydraes van die plaaslike kerk as die liggaam van Christus,  by Spruit en ook van die direkte omgewing

Beskikbaar:

‘n Ou gebou sonder dak, mure of deure, waarskynlik ‘n ou plaasskool in die vorm ‘H’ . Oor een helfte van een deel van die gebou is ‘n sinkdak opgerig, en ‘n sementblad is gegooi. Die deel sal as kerk dien. Die grense van die terrein kan ‘ons’ self bepaal. Daar behoort ‘n boorgat te wees wat dalk bruikbaar gemaak kan word. In Oliebvenhoutbosch is iemand besig om sinkplate bymekaar te maak vir die projek wat ons teen R20 stuk gaan aankoop.

Benodig:

Eerste goed:

  • Stoele, sodat die erediens in die bereide lokaal kan plaasvind.
  • Bruikbare deurkosyne, vensterrame staalhekke en sink vir die dak moet versamel word.
  • Mense wat kan help om bogenoemnde te vervoer na die bouterrein.
  • ‘n Kamer wat vir stoorruimte gebruik kan word (Dak, vensters en deur wat kan sluit)
  • ‘n Kamer wat as slaapplek vir ‘n opsigter kan dien. (dieselfde as bog.?)
  • Oprigting van ‘n heining.
  • Beplanning vir inrigting van die klaskamers, klimrame en sandbakke
  • Opleiding van personeel (begin DV 15 September in Olievenhoutbosch)
  • Maak kontak met Spruitkerk en lig in/kry goedkeuring en samewerking
  • Betrek ander gemeentes/geloofsgemeenskappe by projek
  • Stel verteenwoordigende, verantwoordelike werkgroep saam, met funksies uiteengesit
  • Kommunikeer vordering na donateurs en belangstellendes

Daarna:   

  • Hekke in openinge van dwarslat.
  • Binnemure van klassies so uitgebreek dat 3 groter klasse ontstaan
  • Klasse word van dak, deur en vensters voorsien.          
  • Klasse word geverf en basies ingerig sodat onderrig kan begin
  • Beplanning vir daaglikse operasie, insluitend kosvoorsiening
  • Nader gemeentes om finansiele bystand

Werksfase:

  • Sommige projekte deur professionele persone
  • Sommige in samewerking met plaaslike mense, verkieslik uit Spruitkerk
  • Sommige deur plaaslike mense
  • Sommige in groter groepe vrywilligers
  • Indiensopleiding is wenslik waar van toepassing

Na ingebruikneming:

Stig fonds wat verskuiwing na Olievenhoutbosch moontlik maak.  

Ons Mense

Skakels

2010 Gereformeerde Kerk Wierdapark.