|
|
|
| |
WIE IS ONS?
Ons gemeente het in 1996 tot die besef gekom dat ons met die jare in ‘n groef beland het. Jy word ‘n lidmaat, woon so af en toe kerk by, kry besoek van ‘n ouderling en vir die res is dit jy en die lewe. En so draf jy agter die kultuur van die tyd aan– of dit nou Afrikaner Nasionalisme is wat die Christelike geloof as kruk saamsleep en of dit die hedendaagse elkeen vir homself benadering is waar so baie die morele vakuum lewe nastreef…
Dit is nie ons nie! Dit is nie jy nie! Christene is spesiale mense saamgebind in Christus se gesin. Ons is ondanks al ons gebrokenheid skoongewas. Ons het ‘n doel in die lewe, ‘n roeping en ‘n taak. Ons moet die Blye Boodskap uitdra! Ons wil daders van die Woord in ‘n wêreld vol nood wees!
Om dit te doen moes ons eers hand in eie boesem steek. Ons moes raaksien hoe ons eie geloof verintellektualiseer het en hoe dit naderhand byna uit net ‘n dop reëls met ‘n stel tradisionele handelinge bestaan het. Daaraan het ons begin werk. Nie sonder trane nie, bygesê. Ons wou die nuwe pad nie aandurf as Gereformeerde gemeente wat gaandeweg ‘n pinkstergemeente word nie – daarvoor was ons te lief vir ons eie ryke herkoms en die vaste Woord waarop ons voorvaders gebou het. Ons wou as Gereformeerde gemeente relevant en getrou aan ons Verlosser se roeping in vandag se tye leef.
Dit is nou elf jaar later, die gemeente het intussen verander, lidmate het gekom en gegaan, daar is van predikante verwissel maar nie te min het die roeping gebly – dit is om as daders van die Woord in ‘n gebroke wêreld die Blye Boodskap uit te leef en uit te dra.
Hier is ‘n kernagtige opsomming van ons gemeente se karakter. Ons gemeente verstaan ons taak vanuit die Skrif as Daders van die Woord in ‘n wêreld vol nood. Dit is ONS MISSIE, die opdrag van God aan ons gemeente. Verder glo ons dat ons as Daders ons deur die volgende vier beginsels moet laat lei:
- Gereformeerd
- Reformerend
- Relevant
- Evangelisasie
Ons wil dus:
- as Gereformeerde Daders bekend staan. Dit beteken dat die Woord van God ons enigste bron is wat as basis dien vir ons geloof en ons lewe.
- as Reformerende Daders bekend staan. Dit beteken dat ons nie vasval by tradisies nie – al glo ons nou ook dat hulle gebou is op die Woord van God. Ons keer eerder telkens weer terug na die Woord van God om ook ons tradisies daaraan te meet.
- as Relevante Daders bekend staan. Ons gemeenskap is gedurigdeur besig om te verander en te groei. Sou ons werklik as Daders ons roeping effektief wil verrig, is dit nodig dat ons voortdurend weer oor ons werkswyse besin. Ons as gemeente wil dus nie stagneer in een bedieningspatroon nie maar is ontvanklik vir nuwe idees om die waarhede van die Skrif vandag uit te leef.
- as Evangelisasie-gerigte Daders bekend staan. Die Blye Boodskap is die antwoord vir alle mense, regoor die wêreld ten alle tye. Om die Blye Boodskap uit te dra is ons belangrikste taak.
Ons hoop dat jy hierdeur al ‘n goeie idee van ons as Wierdaparkers kry. Ons nooi jou graag uit om te deel in ons roeping.
Kom loer gerus in!
|
|
|
|
 |
| 2010 Gereformeerde Kerk Wierdapark. |
| |
|