Coronavirus

Covid-19

Geliefdes

In gehoorsaamheid aan God moet ons as kerk ook ‘n voorbeeld stel as landsburgers om mee te werk tot voordeel van ons land en samelewing ten einde die verspreiding van die COVID19 virus te bekamp en ons gemeentelede te beskerm. Na ernstige gesprekke en oorwegings van ʼn verskeidenheid van opsies, en ten einde gehoor te gee aan die regering, is die besluit geneem om die Sondag eredienste te staak met onmiddellike effek tot verdere kennisgewing. Daar is ʼn taakspan opgestel wat die situasie daagliks sal monitor en terugvoer sal gee aan die Kerkraad en gemeente. Enige verandering in die reëlings sal gekommunikeer word op die volgende sosiale media platforms:

Die Kerk se webblad: www.gkwp.co.za

Die Kerk se Facebook blad: Gereformeerde Kerk Wierdapark

WhatsApp en per SMS

Ten einde te verseker dat ons bly deel in mekaar se sosiale saamwees, sal die taakspan dit waardeer indien enige lief, leed, gebedsversoeke en waar ons mekaar kan help deurgestuur word na of die kerkkantoor, jou diaken, ouderling of Ds. Awie. Die taakspan nooi alle gemeentelede om met die kerkkantoor kontak te maak op 082 576 9834. Ds. Awie sal gedurende hierdie tyd daagliks (naweke ingesluit) ’n audio boodskap stuur waarin hy sal bid vir die gemeente en sake wat onder sy aandag gebring is.

Ons wil asseblief alle gemeentelede vra om te bly bid vir mekaar en om in kontak te bly met mekaar gedurende hierdie tyd van sosiale distansiëring.

Onthou: versprei die Woord en nie die virus nie.

Bly veilig!

Artikels in Vrye Weekblad 20 Maart 2020

Artikels is gegrond op ’n onderhoud deur The Tedmed Foundation met Dr. Peter Piot, wat allerweë as die wêreld se voorste viroloog beskou word. (Jeff Rankin)

Hoe ver is die uur vir ’n corona-kuur?

Die corona-katastrofe is met mening voor ons almal se deure geplaas. Hoewel ingeperk en onseker, is die wêreld hoopvol ‘n nuwe entstof en medikasie kom. (Elsabé Brits, 27 Maart 2020)

1. Wat moet jý doen?

Bly kalm, wees verantwoordelik en sien om na die mense om jou en jouself so goed as wat jy kan. Bly ingelig deur slegs betroubare bronne met bevestigde inligting – soos hierdie – te gebruik.

Moeite is gedoen om die vrae wat volg korrek en akkuraat te beantwoord, met skakels na die bronne waar moontlik. Hierdie antwoorde sal elke Vrydag bygewerk word soos wat die situasie ontwikkel en nuwe feite aan die lig kom. Baie van die vrae en antwoorde is gegrond op ’n onderhoud deur The Tedmed Foundation met dr. Peter Piot, wat allerweë as die wêreld se voorste viroloog beskou word. Die volledige onderhoud kan hier afgelaai word.

Voordat jy verder lees, let op die datum waarop hierdie artikel bygewerk is: 19 Maart 2020.

Verder, moenie die basiese goed vergeet nie: Was jou hande gereeld en deeglik; moenie aan jou gesig vat nie; nies en hoes in jou elmboog of in ’n papier-sneesdoekie; moenie bladskud of mense drukkies gee nie. As jy siek is, dra ’n masker, bly tuis en bel ’n dokter of die nasionale hulplyn by 080 002 9999 vir instruksies oor wat om volgende te doen. Inligting is ook beskikbaar via www.sacoronavirus.co.za of op WhatsApp deur “Hi” na 0600 123 456 te stuur.

2. Hoe erg is die situasie?

Plaaslik het die regering relatief vroeg die soort ingrypende stappe gedoen wat kan keer dat die situasie buite beheer raak. Tans is daar 150 bevestigde gevalle in Suid-Afrika; hiervan is 16 binnelands opgedoen en die res in die buiteland. Niemand het tot dusver in Suid-Afrika gesterf weens Covid-19 nie. Wêreldwyd is met die skryf hiervan amptelik 228,385 gevalle aangeteken en 9,357 mense het gesterf. 

In China, waar die virus die eerste keer geïdentifiseer is, is die ergste waarskynlik verby; in die meeste ander lande, soos Suid-Afrika, lê die ergste nog voor. As die aantal bevestigde gevalle eksponensieel begin toeneem, sal enige land se gesondheidstelsel sukkel om dit te hanteer. Die selfs groter vrees is dat ekonomieë tot stilstand kan kom.

3. Gaan daar ’n entmiddel kom, en wanneer?

Dis redelik waarskynlik, maar daar’s geen waarborge nie, verduidelik Piot. Mislukking is moontlik. “Ons soek byvoorbeeld al 35 jaar lank na ’n MIV-entstof en het steeds nie een nie. Ek’s optimisties dat ons ’n entstof vir Sars-CoV-2 sal ontwikkel, maar ons sal dit omvattend vir doeltreffendheid en veiligheid moet toets – wat baie mense en tyd verg.

“Ons sal binne ’n maand of twee “kandidaat”-entstowwe hê. Maar omdat omvattende toetsing noodsaaklik is om te bewys dat dit kan beskerm en veilig is, sal dit minstens ’n jaar duur voordat ons ’n entstof het wat deur ’n groot regulatiewe agentskap goedgekeur is en waarmee mense ingespuit kan word. Trouens, 18 tot 24 maande sal meer waarskynlik verloop voordat ons miljoene dosisse beskikbaar sal hê, en dis optimisties.

“Wanneer ’n “kandidaat”-entstof in die laboratorium gereed is, moet kliniese toetse volg – eers op diere en dan opeenvolgend op groter groepe mense.”

Die goeie nuus is dat entstofontwikkeling onmiddellik begin het slegs weke nadat Sars-CoV-2 ontdek en geïsoleer is. Befondsing is deur talle regerings toegestaan, en baie maatskappye en wetenskaplikes werk wêreldwyd met uiterste dringendheid hieraan.

Kan ons nie gouer ’n entstof ontwikkel nie? “Ongelukkig is daar nie kortpaaie nie,” maan Piot. “Die menslike liggaam se immuniteitstelsel is kompleks en onvoorspelbaar. Virale mutasies kan voorkom. Kinders verskil van volwassenes. Vroue kan anders as mans reageer. Ons moet seker maak enige entstof is 100% veilig vir enigiemand wat dit kry. Om dit reg te kry moet ons middels en entstowwe in verskillende dosisse op ’n wye reeks gesonde menslike vrywilligers in versigtige meettoestande toets.”

4. Wat van behandeling?

Drie middels toon belofte as behandeling vir mense wat Covid-19 opgedoen het:

Remdesivir: Remdesivir is ’n eksperimentele middel wat nie juis hond haaraf gemaak het teen die Ebola-virus, waarvoor dit aanvanklik deur die Amerikaanse farmaseutiese reus Gilead Sciences ontwikkel is nie. Maar nou hoop navorsers in die VSA en China dat dit hoop kan bied aan mense wat ernstig siek is weens die coronavirus. Bruce Aylward, die assistent-direkteurgeneraal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), is ook optimisties. Sy stelling laat in Februarie dat remdesivir die enigste middel was met ’n kans op sukses, het Gilead se markwaarde ’n hupstoot gegee.

Laboratoriumtoetse het vroeër aangedui dat remdesivir kan keer dat sekere virusse hulleself repliseer, maar die middel is nie op mense met Sars of Mers getoets nie omdat daar glo te min pasiënte was. Nou is kliniese toetse in sowel die VSA as China onderweg, en die eerste resultate word in April verwag, skryf Christopher Rowland in The Washington Post.

Chloroquine: Franse wetenskaplikes is optimisties dat die malariamedisyne Chloroquine effektief teen die coronavirus ingespan kan word. Prof. Didier Raoult, ’n gevierde navorser verbonde aan die Universiteit van Marseilles, het die afgelope week in ’n video aangekondig dat kleinskaalse toetse aandui dat Covid-19-pasiënte wat met Chloroquine behandel word, vinniger gesond word en vir ’n korter periode aansteeklik is.

Raoult is ook betrokke by ’n paar van verskeie kliniese toetse in China om vas te stel of Chloroquine, ’n byna 80-jaar-oue middel teen malaria wat ’n mate van sukses in die behandeling van Sars gehad het, teen Covid-19 opgewasse is.

Navorsers in Engeland, Thailand, Suid-Korea en die VSA ondersoek tans ook Chloroquine se potensiaal as coronavirus-behandeling, en of die middel die verspreiding van die virus kan help voorkom, skryf die patoloog dr. Angela N. Baldwin van ABC News se mediese eenheid.

Meer daaroor hier en hier.

Kevzara: Kevzara is ’n middel wat vir rumatoïede artritis voorgeskryf word. ’n Internasionale studie om te toets of dit koors en die behoefte aan aanvullende suurstof in pasiënte met Covid-19 kan verlig, begin binnekort in New York, waar die virus tans vinnig versprei. Die studie, deur die farmaseutiese vennote Regeneron en Sanofi, sal later uitbrei na ander gebiede, waaronder Italië.

Nog ’n middel vir rumatoïede artritis genaamd Actemra van die maatskappy Roche is reeds in China vir die behandeling van pasiënte met longkomplikasies weens Covid-19 goedgekeur. Albei dié middels inhibeer interleukin-6, ’n groep sitokiene wat navorsers reken dalk by die ooraktiewe inflammasie in die longe van kritieke Covid-19-pasiënte betrokke is. Meer daaroor hier.

Kaletra: Die hoop dat die MIV-middel Kaletra in die stryd teen Covid-19 ingespan kan word, het die afgelope week beskaam toe wetenskaplikes in China die resultate van kliniese toetse in die New England Journal of Medicine aangekondig het. Kaletra het geen beduidende verskil gemaak aan mense met die virus se kanse op herstel nie, het die navorsers gesê ná toetse waarby 199 mense betrokke was.

5. Is daar goeie nuus ook?

Piot wys op ses positiewe aspekte van die krisis: 1. Moderne biologie is met ’n geweldige spoed besig om oplossings te soek; 2. Benewens die internasionale gesondheidsgemeenskap, insluitende die WGO, fokus regeringsleiers oral op die hoogste vlak op die bedreiging; 3. Die virus is binne dae geïsoleer en die volgordebepaling van die genetiese materiaal vasgestel; 4. Behandeling van die siekte gaan waarskynlik binnekort beskikbaar wees; 5. Ons gaan hopelik ’n entmiddel kry; 6. Hierdie is waarlik die era van moderne kommunikasie. Dit is tot ons voordeel, mits ons vals en skadelike nuus kan ontmasker.

1. Wat is ’n virus en hoe algemeen is hulle?

Piot: ’n Virus is ’n baie klein deeltjie van die genetiese RNS- of DNS-kode wat deur ’n eksterne proteïen-omhulsel beskerm word. Virusse is oral. Dis ongelooflik om te besef dat as jy almal bymekaar tel, al die virusse in die wêreld saam meer weeg as al die lewende materie in die wêreld – insluitende al die plante, diere en bakterieë. Altesaam 10% van die menslike genoom stam van virus-DNS af. Die aarde is inderdaad ’n “virus-planeet”. Selfs met ’n gewone mikroskoop kan jy nie ’n virus sien nie – 100 miljoen virale deeltjies van die nuwe corona-virus kan op ’n speldekop pas. Dis hoe ongelooflik klein die virus is.

2. Waarom is dit so moeilik om te keer dat ’n virus versprei?

Piot: Omdat virusdeeltjies so ontsaglik klein is, kan net een hoes biljoene van hulle op piepklein druppeltjies in die lug laat dryf. Virusdeeltjies probeer lewende selle binnedring deur te vermenigvuldig, en ander selle en gashere te besmet. Hoekom probeer virusse lewende selle binnedring? Dis hoe virusse “voortplant”. Virusse tree soos parasiete op. Hulle kaap lewende selle sodat elke sel gedwing kan word om méér virusse te maak. Wanneer ’n sel gekaap word, stuur die virus honderde of duisende kopieë van homself uit. Die virus laat gevolglik dikwels die gekaapte sel sterf.

3. Wat beteken dit om besmet te wees met die nuwe corona-virus, wat wetenskaplikes “Sars-CoV-2” noem?

Dit beteken dat Sars-CoV-2 in jou liggaam begin reproduseer het.

4. Hoeveel verskillende corona-virusse raak mense?

Piot: Uit die miljoene soorte virusse benadeel net ’n paar honderd mense. Nuwe virusse kom voortdurend te voorskyn; die meeste is skadeloos. Daar is sewe corona-virusse wat mens-tot-mens-oordrag meebring. Vier laat ’n matige verkoue ontstaan, maar drie van hulle kan dodelik wees, insluitende die virusse wat ernstige akute respiratoriese sindroom (Sars) en Midde-Oosterse respiratoriese sindroom (Mers) veroorsaak, en nou die nuwe corona-virus, Sars-CoV-2. Voorbeelde sluit die virusse in wat siektes soos MIV, Sars, Mers en ’n paar ander veroorsaak. Dit sal weer gebeur. Die feit dat ’n ongewone virus te voorskyn gekom het, is ’n baie groot probleem … as dit maklik onder mense kan versprei en skadelik is.

5. Hoe maklik versprei die nuwe virus?

Piot: Sars-CoV-2 versprei taamlik maklik van mens tot mens, deur hoesbuie en aanraking. Dis ’n “respiratories oordraagbare” virus. Onlangse studies toon dat dit dalk ook deur ontlasting- en urine-besmetting kan versprei, maar dit moet nog bevestig word.

6. Hoe verskil dié nuwe virus van die vroeër bekende corona-virusse wat Sars of Mers versprei?

Piot: Sars-CoV-2 verskil op vier belangrike maniere: Eerstens toon baie mense wat besmet is dae lank geen simptome nie. Hulle kan dan onbewustelik ander mense aansteek en ons weet nie wie om af te sonder nie. Dis uiters kommerwekkend, want Sars-CoV-2 is hoogs aansteeklik. Tweedens is Covid-19 80% van die tyd ’n matige siekte wat soos ’n ligte verkoue of hoes voel. Ons sonder onsself dus nie af nie en besmet ander. Derdens word die simptome maklik met dié van griep verwar. Baie mense dink dus hulle het griep en oorweeg nie ander moontlikhede nie. Vierdens, en moontlik die belangrikste: Die virus kan baie maklik van mens tot mens versprei omdat dit in die vroeë fases in die boonste keelgedeelte gekonsentreer is. ’n Mens se keel is vol virale deeltjies en wanneer ons hoes of nies, kan biljoene van hierdie deeltjies uitgeskei en na ’n ander persoon oorgedra word.

7. Kan iemand dus met die nuwe virus besmet wees en absoluut geen simptome toon nie?

Piot: Ongelukkig ja. Baie mense wat die virus opgedoen het, toon vir die eerste paar dae geen simptome nie en ontwikkel dan ’n ligte hoes of lae koors. Dis die teenoorgestelde van Sars, waar jy vir ’n paar dae duidelike simptome gehad het, maar net aansteeklik was terwyl jy siek was.

8. Hoe dodelik is die nuwe virus?

Piot: Die meeste wetenskaplikes glo 1% tot 2% van alle mense wat besmet raak, sterf. Die WGO dui ’n hoër syfer van meer as 3% aan, maar daardie raming sal waarskynlik daal namate hulle bepaal hoe om baie onaangemelde of matige gevalle te tel. Die sterftesyfer is beslis hoër onder ouer mense en diegene met onderliggende gesondheidstoestande. Is die gemiddelde sterftekoers die syfer waarop ons moet fokus? Nie regtig nie. Jy kan in “gemiddeld” 10 cm water verdrink. ’n Beter manier om die risiko’s te verstaan, is om te besef dat dit dodelik vir sekere groepe mense kan wees en baie minder dodelik vir ander groepe – met ’n wye reeks uitkomste. Dis 80% van die tyd ’n ligte siekte, maar in 20% van gevalle raak dit ernstiger – die ernstigste gevalle toon hoë koors of kortasem. Sommige mense vereis daarom hospitalisering, en sommige sal intensiewe sorg benodig om ’n paar kritieke dae te oorleef wanneer hul longe baie ernstig besmet is.

9. ’n Mens se risiko verhoog dus aansienlik as jy ander toestande, soos diabetes, het. Waarom?

Piot: Omdat jou immuniteitstelsel swak op enige aansteeklike virus reageer, maar veral op hierdie een. Watter groepe mense is hier veral in gevaar? Eerstens, ouer mense soos ek: Ek is 71. Hoe ouer jy is, hoe hoër jou risiko. Nog mense wat ’n groter risiko het, is dié met onderliggende siektes soos diabetes, chroniese obstruktiewe longsiekte (emfiseem) en longkwale, kardiovaskulêre siekte of immuniteitsgebreke.

Hoeveel gevaar is daar vir hierdie hoërisikogroepe? Hul sterftekoers kan so hoog soos 10% of selfs 15% wees. En jou risiko neem toe wanneer jy meer gesondheidstoestande het. Die wetenskaplike data hieroor word gereeld op die web bygewerk.

10. Oor die algemeen lyk dit asof kinders en jongmense net matig geraak word, indien enigsins. Is dit waar?

Piot: Dis hoe dit lyk, maar soos met baie ander kwessies rakende Covid-19 vereis dit bevestiging. Ons weet eintlik nie [hoekom nie]. Dit gaan nog ’n tydjie duur voordat ons groter sekerheid hieroor het.

11. Is dit waar dat jy ander kan besmet terwyl jy geen simptome het nie?

Jy kan ander mense besmet selfs al voel jy goed en toon jy geen simptome nie. Dis ongewoon, hoewel dit ook met MIV-infeksie kan gebeur.

12. Is die seisoensgriep en corona-virus ewe gevaarlik? Word die griep ook deur ’n virus veroorsaak?

Piot: Die seisoensgriep besmet gewoonlik tot 30 miljoen mense per jaar in die VSA, en minder as ’n tiende van die 1% uit die besmette groep sal sterf – maar dis steeds ’n groot getal. Altesaam 300,000 mense sterf in ’n gemiddelde jaar wêreldwyd aan seisoensgriep. Maar die nuwe corona-virus is gemiddeld 10 tot 12 keer dodeliker, en anders as met influensa kan ons onsself nie deur inenting beskerm nie. Die nuwe virus versprei skynbaar net so maklik soos griep.

13. Word griep ook deur ’n virus veroorsaak?

Piot: Ja. Griep word deur die influensa-virus veroorsaak, maar dié virus en die corona-virus verskil baie. ’n Griepinspuiting help jou nie teen die nuwe corona-virus nie, maar dit verminder jou risiko om griep te kry aansienlik. Die gewone verkoue, waarvoor daar geen entstof of geneesmiddel is nie, word dikwels deur ’n ander klein soort virus, ’n rinovirus, veroorsaak, en soms deur ’n ander soort corona-virus.

14. Hoe ontwikkel die infeksie wanneer die nuwe corona-virus ’n vastrapplek in jou liggaam kry?

Piot: Dit begin gewoonlik met ’n hoes, en dan lae koors. Die lae koors ontwikkel dan tot hoë koors en jy raak kortasem. Goeie mediese sorg kan eintlik die verskil tussen lewe en dood beteken wanneer jou koors baie hoog en jou longe so swak is dat jy kortasem raak of hulp benodig om te kan asemhaal.

15. Hoe verskil die nuwe virus van dié wat siektes soos masels, pampoentjies of waterpokkies veroorsaak?

Sars-CoV-2 is tans baie minder aansteeklik en gevaarlik, maar daar is nog baie wat ons nie daarvan weet nie. Wetenskaplikes verstaan die ander siektes baie deeglik.

16. As die koronavirus minder gevaarlik is as ander virusse, hoekom is ons so bang daarvoor? 

Volgens die WGO maak enigiets wat ons kan siek maak of doodmaak ons senuweeagtig, maar akkurate kennis is ’n teenmiddel vir vrees. Die heel veiligste is om die inligting te volg wat deur die amptelike kanale kom. Vir die jongste oor corona in Suid-Afrika, klik hier

17. Is ’n virus al ooit heeltemal uitgewis?

Ja, pokke, wat voorheen miljoene lewens geëis het. Ons is ook baie naby aan die uitwissing van polio, wat in die verlede ’n verskrikking was.

18. Versprei verskillende virusse makliker as ander?

Piot: Ja. Masels is die ergste. Jy kan masels kry deur by ’n leë kamer in te stap wat ’n besmette persoon twee uur vantevore verlaat het! Dis hoekom die siekte veral uitbreek wanneer inentingskoerse daal. Dis ’n baie strawwe siekte. ’n Gewone verkoue versprei taamlik maklik. MIV is moeiliker om te versprei en tog het ons al 32 miljoen sterfgevalle gehad.

19. As ek dalk besmet raak, is daar enige medisyne wat ek kan gebruik om die virus te temper, of dit te laat verdwyn?

Piot: Geen middels is tot dusver as doeltreffende behandeling bewys of wat die dokters ’n “terapie” noem nie. ’n Klomp verskillende middels word tans in kliniese proewe getoets, en hopelik sal dit binnekort goeie resultate lewer.

20. Wat van antibiotika?

Piot: Dis ’n nuwe virus dié, nie ’n bakterie nie. Antibiotika werk teen bakterieë, nie virusse nie. Dit kan dalk in hospitaalgebruik met sekondêre bakteriële infeksies help, maar antibiotika het glad nie ’n uitwerking op die nuwe virus self nie.

1. Waarom is toetsing so belangrik?

Dis belangrik om te weet wie die virus het sodat die verspreiding daarvan beperk kan word, maar nie almal kan, of behoort, getoets te word nie. ’n Dokter in die staatsdiens sê oormatige toetsing sal net die resultate van alle toetse vertraag. “Ons werk met ’n sorteringstelsel. As jy geen simptome het nie en geen kontak gehad het met hoërisiko-kandidate nie, gaan jy huis toe en behou ’n fisieke afstand. Die tweede groep is mense wat siek is met simptome van virale infeksie maar nie kontak gehad het met iemand met die infeksie of onlangs teruggekom het van ’n hoërisikoland nie. Daar word aanbeveel dat jy jouself vir 14 dae isoleer, of dit nou corona is of nie – jy moet absoluut nêrens heen gaan nie. Die derde kategorie is pasiënte wat simptome het van ’n laelugweginfeksie of griep en wat ’n hoë risiko het, soos reeds genoem, en dis hulle wat getoets word.” Sy voeg by: “In ’n ideale wêreld sou ons almal toets, maar ons kan nie.”

Vir meer oor isoleringsprotokol, kyk hier.

2. Hoekom sluit sommige lande hul skole?

Dis omdat wetenskaplikes nie weet hoeveel van die verspreiding versnel word deur kinders wat draers is nie. Kinders versprei virusse gewoonlik vinnig omdat hulle nie hul hande was of nie juis persoonlike higiëne beoefen nie. Hulle speel ’n groot rol in hoe die griep versprei, en daarom het baie lande skole gesluit in gebiede wat geraak word.

3. Wat van al die kure en goeters wat op die internet verkondig word?

Daar is nooit ’n tekort aan vals aansprake, kwaksalwers en ander ongure karakters op die internet nie. Enige werklike deurbraak sal dadelik behoorlik deur die owerhede en verantwoordelike mediabronne verkondig word, nie op een of ander obskure YouTube-kanaal waar iemand net sy 7 miljoen beste vriende daarvan vertel nie. Wees agterdogtig as enige storie net ’n enkele bron het wat boonop buite die wetenskaplike hoofstroom is. Moenie enige bog versprei nie – foutiewe inligting kan menselewens kos. So nee, moenie daardie ou glo wat soggens sy sinusse met die haardroër opwarm nie.

4. Wat van maskers? Is die blou chirurgiese maskers of ’n N95-gesigmasker nuttig?

Piot: Maskers het baie beperkte waarde, buiten in sekere spesifieke omstandighede. Na gelang van die soort N95-masker, sal net minder as 50% van inkomende virusdeeltjies byvoorbeeld gefilter word, maar die masker kan dalk die verspreiding van klein druppeltjies in die lug verminder. Die beste maskers, wat versigtig opgesit is en behoorlik gedra word, verminder die verspreiding van siek mense wat hoes. Dit beteken die masker is nie daar om jou teen ander mense te beskerm nie; dit is daar om ander mense teen jou te beskerm. Dis hoflik teenoor ander om ’n masker te dra wanneer jy dink jy ontwikkel ’n verkoue en begin hoes. Maskers het ’n bykomende voordeel: Met ’n masker op jou gesig gaan jy minder waarskynlik aan jou mond raak. As jy dalk die virus op jou hande het, sal dit dus minder waarskynlik wees dat jy dit na jou liggaam sal oordra. Maskers bied voordele vir gesondheidsorgwerkers. As jy in ’n gesondheidsorgomgewing werk of bejaardes versorg, is maskers verpligtend.

5. Hoe kan ons die verspreiding rem?

Piot: Deur tempering, wat beteken om die verspreidingstempo van die virus te laat daal en die uitwerking daarvan op openbare gesondheidsdienste, die openbare lewe en die ekonomie te beperk. Totdat entstowwe beskikbaar is, kan ons dit vertraag. Goeie higiëne en algemene beleefdheid kan ook die verspreiding verminder. Verder kan “fisieke afstandskepping”-maatreëls, soos om van die huis af te werk, nie te vlieg nie, skole te sluit en groot byeenkomste uit of af te stel, ook die verspreiding van Sars-CoV-2 help vertraag.

6. Wat sal dit verg om hierdie virus in die kiem te smoor?

Piot: Niemand weet vir seker nie, maar China het gewys dis moontlik om die verspreiding deeglik vas te vat. ’n Entstof kan nodig wees om Sars-CoV-2 volkome uit te wis.

7. Hoe waarskynlik is dit dat die nuwe virus sal terugkom na ’n land nadat die piek bereik is en die aantal nuwe gevalle daal?

Piot: Sars-CoV-2 sal ons waarskynlik nooit heeltemal verlaat sonder dieselfde aksie wat pokke uitgewis en polio byna uitgewis het nie.

8. Die enigste manier om die nuwe corona-virus op lang termyn te klop is dus globale bevolkingswye inentings?

Piot: Ons weet nie regtig nie. Bevolkingsgegronde maatreëls kan dalk werk, maar ’n entstof kan nodig wees. Dit sal waarskynlik uitvoerbaar wees solank die virus stabiel bly en nie te veel muteer nie.

9. Sal die nuwe virus “uitbrand” soos ander skynbaar gedoen het?

Piot: Ons weet nie, maar dis onwaarskynlik. Sars-CoV-2 is reeds te goed wêreldwyd gevestig. Dis nie meer net ’n Chinese kwessie nie; daar’s waarskynlik honderdduisende mense wat besmet is, maar nog nie getoets nie – nie net in China nie, maar in byna 100 ander lande. Sars-CoV-2, net soos die influensa-virus wat seisoensgriep veroorsaak, gaan heel moontlik baie lank met ons wees.

10. Sal die nuwe virus in golwe of siklusse terugkom, en indien wel, wanneer?

Piot: Weer eens, ons weet nie, maar dis ’n baie belangrike vraag. Waarskynlik, maar in hierdie vroeë stadium is niks seker nie. Die pandemiese griep van 1918 het die wêreld in drie golwe getref. Die nuwe virus sal moontlik ’n tweede golf in China met die heropening van skole en fabrieke hê. Maar totdat ons sien wat werklik gebeur, weet ons nie wat CoV-2 gaan doen nie.

11. Sal warmer weer tot ons redding kom?

Warmer weer kan die verspreiding laat afneem, hoewel ons geen bewyse het dat dit die geval is nie. Singapoer, wat reeds 120 gevalle het, en een van die beste Covid-19-beheerprogramme ter wêreld, is net 112.6km van die ewenaar – minstens in daardie geval het ’n warm klimaat dus nie die virusverspreiding gekeer nie. Dis moontlik dat Sars-CoV-2 bestendig tot ’n minder gevaarlike vorm kan muteer sodat minder mense uiteindelik weens dit sal sterf, soos gebeur het met die varkgriep in 2009. Maar ek sal nie daarop staatmaak nie. Dit sal uitstekende nuus wees as doeltreffende behandeling of ’n mengsel van medisinale middels vinnig beskikbaar gestel kan word.

12. As die corona-virus ’n bedreiging raak wat nie weggaan nie, wat sal dit vir my en my gesin beteken?

Piot: Dit sal beteken ons almal sal moet leer hoe om dit te hanteer en seker maak ons tree veilig op. Ons sal veral die behoeftes van ouer familielede in ag moet neem.

13. Die grootste pandemie in die moderne tyd was die griepepidemie van 1918 teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog. In daardie pandemie het influensa bloot gemuteer – dit was nie ’n nuwe virus nie. Hoe vergelyk Sars-CoV-2 met daardie mutasie?

Piot: Sars-CoV-2 is net so aansteeklik soos die griepepidemie van 1918 en dit lyk net so dodelik, maar die tyd sal leer. Onthou, in 1918 was daar geen mediese stelsel soos ons vandag in die ontwikkelde wêreld het nie, en ook nie antibiotika om bakteriële longontsteking te behandel nie – ’n groot oorsaak van dood.

14. Is daar enige kans dat hierdie net een groot vals alarm is en dat ons later gaan terugkyk en sê “Sjoe, ons was almal paniekbevange oor niks!”?

Piot: Nee. Covid-19 is reeds in meer as 100 lande en hoogs aansteeklik. Daar’s feitlik elke dag meer en meer gevalle, in meer lande. Dis nie ’n oefensessie nie. Dis die ware Jakob.

15. Dis moeilik om te glo dat ’n volkome nuwe virus wat die wêreld nog nooit voorheen ervaar het nie, skielik miljoene mense kan besmet. Wanneer het dit laas gebeur?

Sars en Mers was nuut, maar hulle het nie so ’n omvang bereik nie. MIV was nuut in die wêreld en het 70 miljoen mense besmet – 32 miljoen van hulle het in die MIV-pandemie gesterf.

16. MIV beïnvloed arm lande veel meer as ryker lande. Sal dit waarskynlik ook op die nuwe virus van toepassing wees?

Ja, beslis. Welvarende lande soos die VSA sal baie minder sterfgevalle hê danksy beter hidrasie, aanvullende asemhalingstoerusting, behoorlike hantering van infeksies, ensovoorts. Dis potensieel ’n reuseprobleem vir lande met gebrekkige hulpbronne en swak gesondheidstelsels. Baie lande in Afrika gaan voor enorme risiko’s te staan kom. Wanneer dit die hulpbron-arm lande van die wêreld bereik, gaan dit waarskynlik katastrofies wees.

17. Waarom is daar tot dusver relatief min Covid-19-gevalle in Afrika?

Volgens New Scientist is dit moontlik ’n veelheid van faktore wat hier ’n rol speel, maar weer eens is niemand seker wat die presiese feite is nie. Dit kan volgens kenners wees weens die aard van die virus wat dit moontlik maak dat talle mense wel besmet is, maar nie simptome het nie, maar die vinnige optrede van regerings om mense by lughawens te monitor en kwarantyn vir diegene wat van hoërisikolande af terugkeer, het gehelp. Afrika se bevolking is ook heelwat jonger as Europa en China se gemiddelde.

18. Hoe het China die groot aantal sterftes vrygespring wat ander lande nou so vrees?

Die WGO se verteenwoordiger in China, dr. Gauden Galea, het aan UN News gesê die sluiting van Wuhan, al was dit swaar vir inwoners, het lewens gered. Dit het “tyd gekoop” vir China en ook vir die hele wêreld, verduidelik hy. “Dit was effektief en het gemaak dat China die uitbreking effektief kon beheer. Die reikwydte van die epidemie en klein aantal gevalle buite Hubei het gewys dit het gewerk.” Hy sê China het bewys die trajek van die uitbreking kan verander word. “’n Uitbreking van dié aard groei gewoonlik eksponensieel, bereik ’n hoë piek en neem eers natuurlik af wanneer alle vatbare mense besmet is of die siekte ontwikkel het. Dit het nie in China gebeur nie.”

19. Hoe verskil die twee strategieë wat lande teen Covid-19 inspan?

Die eerste manier is volgens die Imperial College Covid-19-reaksiespan daarop gefokus om die verspreiding van die epidemie te vertraag, maar nie noodwendig te stop nie. Dit verminder die druk op die gesondheidstelsel en beskerm diegene wat die grootste kans het om besmet te word. Die tweede is onderdrukking, wat poog om die epidemie om te keer deur die aantal infeksies laag te hou en die situasie vir ’n onbeperkte tyd lank onder beheer te hou. Elkeen van die twee het sy eie uitdagings.

20. Wat beteken dit “om die kurwe platter te maak”?

Dit is ’n statistiese term wat in die epidemiologie verwys na die kurwe op ’n grafiek van geprojekteerde nuwe geval oor ’n sekere periode, skryf CNBC.

’n Meer geleidelike styging van die kurwe, in teenstelling met ’n skerp opwaartse kurwe, beteken dieselfde aantal infeksies vind oor ’n langer tyd plaas, so daar is minder druk op die gesondheidstelsel op ’n gegewe tydstip. Deur die kurwe platter te maak, kan die stelsel dus beter na pasiënte omsien.

1. Wat is die hoofsimptoom waarvoor mense op die uitkyk moet wees?

Piot: ’n Gehoes is die nommereen-simptoom.

2. Is koors ’n goeie manier om aangetaste mense te identifiseer?

Piot: ’n Hoë koors kan rede tot kommer wees en behoort mediese aandag te kry. Maar deur mense by byvoorbeeld die lughawe slegs vir koors te toets, sal baie aangetaste mense laat verbygaan. Sowat 30% van Chinese coronaviruspasiënte het glad nie koors gehad toe hulle by die hospitaal opgedaag het nie.

3. Moet ek bekommerd wees dat ek Covid-19 gaan opdoen?

Piot: As jy nie ’n hoërisiko-geval is nie, sou ek my nie te veel daaroor gekwel het nie, maar ek sou steeds alles in my vermoë doen om nie die infeksie te kry nie omdat elke individuele geval anders is. Op die ou einde gaan almal binne die volgende paar jaar gevaar loop om dié virus te kry, net soos niemand vir ewig ’n verkoue of griep kan vermy nie. Ons moet dus almal gereed wees om by die huis te bly sodra ons die eerste simptone begin toon.

4. As almal die nuwe virus gaan opdoen, maak dit mos sin om dit vroeër eerder as later op te doen?

Piot: Ons wil die infeksie vertraag, wat beteken dat ons minder nuwe gevalle wil hê sodat ons hospitale die ernstigste pasiënte kan behandel sonder om oorval te word of pasiënte met ander ernstige kwale te moet wegwys.

5. Dit blyk dat mense selfs nadat hulle van die virus herstel het steeds aansteeklik kan wees. Is dit waar?

Piot: Ons weet nie, hoewel dit tans die geval blyk te wees vir ’n rukkie ná herstel. Maar ons weet dit nie vir seker nie. Daar moet eers meer navorsing gedoen word.

6. As jy eers die virus gehad het, is jy dan permanent immuun daarteen, soos met masels of pampoentjies?

Piot: Ons het ook nog nie ’n antwoord op hierdie belangrike vraag nie.

7. Is hierdie nuwe virus seisoenaal, soos griep?

Piot: Ons het nog nie lank genoeg daarmee te doen om te weet of daar ’n seisoenale mutasie vir Sars-CoV-2 is nie, of hoe die triljoene nuwe virusdeeltjies verander namate dit deur miljoene mense oorgedra word nie.

8. Kan die virus dus vanself in nuwe vorms met nuwe simptome muteer?

Piot: Ons weet glad nie. As dit wel kan, sal nuwe entstowwe nodig wees om te keer dat die gemuteerde weergawes van Sars-CoV-2 versprei.

9. As die virus wel natuurlik muteer, beteken dit dit kan selfs dodeliker of, aan die ander kant, minder dodelik raak?

Piot: Ja, albei gevalle is moontlik. Dis ’n nuwe virus, so ons het geen idee wat die mutasies sal doen nie.

10. Wat is die risiko vir swangerskap en babas?

Hierdie artikel in New Scientist sê swanger vroue loop nie ’n groter risiko om Covid-19 op te doen as ander mense nie, en dat dit alle beskikbare inligting toon dat die virus nie na ’n ongebore fetus oorgedra word nie.

Piot het in hierdie onderhoud aan Christiana Amanpour van CNN gesê daar is geen aanduiding dat die virusinfeksie enige spesifieke gevaar vir swanger vroue inhou nie.

1. Hoe lank kan die virus op verskillende soorte oppervlakke oorleef?

Volgens navorsing wat in die New England Journal of Medicine gepubliseer is, kan die Sars-CoV-2-virus tot 72 uur op plastiek en vlekvryestaal-oppervlakke oorleef, tot 4 uur op koper en tot 24 uur op karton. Die navorsing sê ook dat hulle toetse aandui dat daar ’n moontlikheid is dat die virus ook tot vir drie uur in die lug lewensvatbaar kan bly.

Prof. Francois Venter, ’n dokter verbonde aan van die Universiteit van die Witwatersrand, sê hy het ook die navorsing gelees en hoewel die inligting oor die lugverspreiding kommerwekkend is, “dui alle huidige kennis oor coronavirusse daarop dat dit nie tradisioneel só versprei word nie”.

“Ons moet verstandig wees en die riglyne volg wat deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) vir ons daargestel word.

“Ons weet dat die heel belangrikste ding is om oppervlakke skoon te hou, en ons hande gereeld te was. Seep is ’n kernwapen teen hierdie virus.”

2. Hoeveel fisieke afstand moet ek handhaaf? Kan ek darem nog saam met iemand koffie of ’n dop drink?

Fisieke afstandskepping beteken dat jy so min as moontlik kontak met ander mense moet hê, en wanneer jy wel nie anders kan nie, behoort jy ’n afstand van 2 meter tussen jou en die ander persoon te handhaaf. Restaurant toe gaan en gym toe gaan is uit – bly by die huis.

Maar jy kan die hond vat vir ’n stap, of met jou fiets gaan ry, sê prof. Venter – dit is goed om in die lug en sonlig te kom, maar jy moet jou afstand hou van mense – en veral groepe mense.

Is dit nog oukei om ’n dop te drink saam met ’n vriend as mens die regte afstand handhaaf? “Wel, mense vra my, kan ek mense nog oornooi vir ’n braai, en my antwoord is as jy dink aan 20 mense oornooi, is jy van jou kop af, maar een of twee mense op jou stoep, met goeie lugventilasie en genoeg afstand en geen aanraking en die ontsmetting van dinge soos deurhandvatsels en ander oppervlakke kan jy doen. Maar dit is beter om hierdie tyd enige tipe fisieke kontak met mense te vermy.”

3. In Suid-Afrika mag gevangenes steeds deur hul prokureurs besoek word. Is daar enige maatreëls getref om te keer dat die virus in gevangenisse posvat, en hoe gaan dit gehanteer word as dit gebeur?

Die departement van korrektiewe dienste het aangekondig dat alle besoeke aan tronke vir 30 dae afgelas is. Hierdie aankondiging het op 16 Maart in werking getree en geld tot 14 April.

4. Ek sal steeds in die winkels moet kom om kos te koop. Watter maatreëls kan ek neem om dit op die veiligste manier moontlik te doen?

Vrye Weekblad se wetenskapjoernalis Elsabé Brits het vir ons die volgende wenke bymekaar gemaak:

  • Indien moontlik, koop aanlyn, ook kos. Jy kan vra dat mense jou pakkies sowat 2 meter ver neersit en jy kan dit daar gaan haal en indra. Betaal vooraf vir die produkte. Indien jy daarvoor moet teken, gebruik jou eie pen. Gooi kwitansies weg.

  • Indien jy moet uitgaan, was jou hande voor en ná die tyd. Indien jy van Uber of ’n soortgelyke diens gebruik maak, ry met die vensters oop.

  • Wanneer jy uitgaan om kos te koop, is dit nie nou die tyd vir die hele familie en al die kinders om saam te gaan nie. Veral die kleintjies wat die hele tyd aan hulle gesigte vat. Koop met jou oë en nie jou hande nie, vat net aan dit wat jy gaan koop. Ontsmet die trollie se handvatsel met die lappies wat voorsien word.

  • Nadat jy tuis gekom het, was jou hande, en die stuurwiel en ratstok  van die motor. Asook die herwinbare sakke waarin jy die inkopies gekoop het. Jy kan die groente met ’n harde skil afwas met ’n klein bietjie seep, ’n groenteborsel en water; en die ander groente kan geweek word vir 15 minute. Was weer jou hande wanneer jy klaar is.

  • Koop met ’n kaart eerder as kontant. Maak ’n lysie sodat jy presies weet wat om te koop, eerder as om rond te dwaal.

  • Dink anders: Jy raak aan niks, tensy jy moet. Of met jou elmboog as jy kan. Stoor deure met jou skouer oop eerder as jou hande.

  • Daar is winkels in Suid-Afrika wat aangekondig het sekere ure is net vir bejaardes; respekteer dit. Indien jy ouer is, maak gebruik hiervan.

  • Kyk weer in jou buurt rond, en steun die kleiner besigheide. Daar is dalk lekker plekke om te koop waar minder mense is.

5. Waarom toon sommige mense geen simptome nie?

Ons weet nie regtig hoekom mense verskillend reageer op die virus nie, het John Swartzberg, ’n kliniese emeritus-professor aan die Berkeley-universiteit wat in aansteeklike siektes en inentingstudie spesialiseer, aan die tydskrif Mother Jones gesê. Hy sê in sommige mense veroorsaak die virus so min inflammasie in hul longe dat hulle nie eens agterkom hulle is siek nie, terwyl ander so min simptome wys dat hulle dit ignoreer. Ander weer kry ’n oorweldigende inflammatoriese reaksie wat dodelik kan wees.

6. Is dit waar dat jy longaantasting vroeg kan identifiseer deur eerste ding elke oggend diep asem te haal?

Dis ’n mite. Mediese kenners het aan AP gesê dit is beslis geen toets vir Covid-19 nie. Volgens dié fopnuus moet ’n mens diep inasem en dit vir 10 sekondes hou, As jy dit met gemak regkry, wys dit daar is geen fibrose in jou longe nie, wat aandui daar is geen infeksie nie. Dr. Robert Legare Atmar, ’n spesialis in aansteeklike siektes, het gesê daar is geen aanduiding dat die virus 50% pulmonêre fibrose veroorsaak nie. Daar is ook talle ander goed, soos angstigheid, wat kan maak dat jy nie dié toets slaag nie, en dan dink jy het Covid-19.

7. Dit lyk asof daar ’n konsensus is dat die krisis tot minstens einde Julie maar dalk einde September kan duur. Wat beteken dit?

Prof. Wolfgang Preiser, hoof van die afdeling geneeskundige virologie by die Universiteit Stellenbosch, sê die eenvoudige antwoord is: Ons weet nie.

“Ons weet nie. Niemand weet nie. Ons het wel twee voordele: Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër in die gang van die uitbreek as die meeste ander lande opgetree, en ons uitbreking is ’n paar weke agter ander lande s’n so ons kan by hulle leer wat werk en ons plan daarvolgens aanpas. Hoe lank dit gaan vat en watter drastiese stappe gevolg moet word, weet ons nie, want die mensdom was nog nooit in so ’n situasie nie.”

8. Hoe kan ek my eie handontsmetter maak?

Die WGO beveel aan dat ’n mens ’n handontsmetter met ’n alkoholbasis gebruik. Hier is die wetenskaplike formule om ongeveer een liter mee te maak (jy kan dit alles by die apteek koop):

  • 833.3 ml etanol 96% v/v (mediese alkohol)

  • 41.7 ml H2O2 3% (waterstofperoksied)

  • 14.5 ml gliserien 98%

As jy nie waterstofperoksied en gliserien kan kry nie, kan jy 2/3 koppie mediese alkohol meng met 1/3 koppie aloe vera-jel, wat in afdelingswinkels beskikbaar is.

Dit is belangrik dat die alkoholkonsentrasie hoog genoeg is, so vodka gaan nie help nie!

9. Kan my hond of kat die virus kry en/of versprei?

Dis onwaarskynlik, sê diere-artse en die WGO beaam dit. Daar is tans geen betekenisvolle bewyse dat jou troeteldier die coronavirus óf gaan kry óf aan jou gaan oordra nie. As honde en katte wel vir Covid-19 vatbaar was, sou daar reeds ’n toeloop van siek diere by dierehospitale aangemeld geword het. Maar die virus kan wel óp jou troeteldier wees, nes op enige ander oppervlak in of buite jou huis. Goeie higiëne is hier van toepassing. Bad jou diere meer gereeld, en was en ontsmet jou hande voor en na jy hulle streel of met hulle speel. Bêre die soene vir later.

Behou ’n veilige afstand van ander mense en diere wanneer julle gaan stap en as jy in kwarantyn verkeer en nie ’n tuin het nie, gaan jou hond aan piepiematjies gewoond moet raak (Takealot verkoop Potty Pads vanaf R233).

As jy simptome van die virus het of daarmee gediagnoseer word, beveel die Sentrums vir Siektebeheer en -Voorkoming (CDC) aan dat jy kontak met jou troeteldier vermy (nes met die res van jou huishouding) en ’n masker dra terwyl jy hulle versorg. Handewas voor en agterna spreek vanself.

Onthou om jou troeteldiere by jou noodbeplanning in te sluit en maak seker dat hulle genoeg kos het, en enige medisyne wat hulle gereeld gebruik, maar dat daar genoeg op die rakke oorbly vir ander diere-eienaars ook! ’n Nuwe speelding of twee sal julle albei help ontspan.

Die corona-katastrofe is met mening voor ons almal se deure geplaas. Hoewel ingeperk en onseker, is die wêreld hoopvol ‘n nuwe entstof en medikasie kom. (Elsabé Brits, 27 Maart 2020)

Dit is nou die grootste openbare vyand van die ganse planeet – ‘n mikroskopiese klein virus wat volgens berekeninge meer as 20% van die wêreld se bevolking tot ‘n staat van inperking geforseer het.

Covid-19 is meer as ‘n gesondheidskrisis; dit gaan ons lewe dalk vir altyd verander en niemand weet hoe lank ons in die loopgrawe gaan lê nie. Almal wat vandag leef, is deel van die Era van Corona, soos dit dalk in die geskiedenis opgeteken sal staan. Hoe ons dit gaan hanteer, ook dié wat ontken dat dit ‘n krisistyd is, sal ons omskrywe.

Daar is oor ‘n halfmiljoen bevestigde gevalle wêreldwyd en die sterftesyfer is onderweg na 23,000 – dalk is dit reeds daar. Dit styg so vinnig soos wat die virus in selle vermeerder. Maar die 21 dae se inperking wat pas begin het, is nie genoeg om Covid-19 te stuit nie. Ons kan in ‘n eindelose sirkel van inperking verval indien die regering nie dié tyd gebruik om te toets, op te volg, mense in isolasie te plaas en die hele gesondheidstelsel gereed te kry nie.

Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), het Woensdagaand in ‘n aanlyn mediakonferensie vanuit Genève aan joernaliste gesê: “Ons sê al vir meer as twee maande dit is die nommer 1- openbare vyand, maar die tyd om op te tree word ál minder.”

Hy het ook spesifiek verwys na lande met minder as 1,000 gevalle (by die skrywe hiervan onder meer Suid-Afrika, wat om 18:00 op 26 Maart op 927 gestaan het).

Die staat van inperking wat talle lande ingestel het, sal nie die epidemies in lande uitwis nie.

“Die punt van die optredes is om meer presiese en geteikende voorsorgmaatreëls daar te stel om oordrag te keer en lewens te red. Ons doen ‘n beroep op lande wat ‘n sogenaamde staat van inperking ingestel het, om die tyd te gebruik om die virus aan te val. Julle het ‘n tweede geleentheid geskep. Die vraag is hoe julle dit gaan gebruik,” het hy gesê.

Volgens die WGO moet die volgende dringend gedoen word:

  • Die gesondheidsorgwerksmag moet uitgebrei, opgelei en ontplooi word.

  • ‘n Stelsel moet geskep word om elke vermeende geval op gemeenskapsvlak op te spoor.

  • Verhoog die produksie, vermoë en die beskikbaarheid van toetse.

  • Identifiseer en rus geriewe toe waarin pasiënte geïsoleer en behandel kan word.

  • Ontwikkel ‘n duidelike plan en prosedure om mense wat met pasiënte kontak gehad het, in kwarantyn te plaas.

  • Herfokus die hele regering om Covid-19 te beheer en te onderdruk.

Ghebreyesus het bygevoeg die laaste ding wat ‘n land wil hê, is om skole en besighede te heropen net om hulle weer te sluit. Daarom moet “aggressiewe metodes gebruik word om mense te vind, isoleer, toets, behandel en hul kontakte op te spoor. Dit is die beste en vinnigste manier om uit die ekstreme fisieke afstandskepping en ekonomiese beperkings te kom. Dit is ook die beste maniere om dit te verhoed.”

Entstofontwikkeling in ’n tyd van paniek

Net omdat daar ‘n pandemie is, beteken dit nie dokters gaan lukraak medikasie uitdeel of ‘n onbeproefde entstof uitreik nie. Die wetenskaplike proses moet steeds streng gevolg word, en onkunde hieroor skep verwarring en onredelike verwagtings.

Gewoonlik neem dit tot 10 jaar of langer om ‘n nuwe entstof of medikasie te ontwikkel, maar in ‘n noodgeval soos die wurggreep waarin die wêreld nou is, kan dit versnel word. Niemand wil ‘n tydraamwerk gee nie, maar die meeste skattings reken so ‘n proses kan 12 tot 18 maande duur. Tog is daar kritieke stappe wat altyd gevolg sal word.

Dit moet veilig en doeltreffend wees, en daarvoor moet die studies deur sekere fases gaan. Dit begin by die studie-ontwerp, daarna toetse op diere, gevolg deur toetse op ‘n paar mense in Fase I tot duisende mense in Fase III. Eers daarná kom goedkeuring en massaproduksie. Talle nuwe entstowwe en middels word nooit bekendgestel nie, juis omdat die proses so streng is om mense te beskerm.

Solidarity. Dít is die naam van die kliniese entstofproewe en toetse vir medikasies wat die WGO onlangs aangekondig het. Daar is besluit op ‘n internasionale poging wat soveel moontlik lande en die beste kundiges betrek “om stewige, hoëgehalte-navorsing te doen, so vinnig as moontlik”.

Daar is ‘n entstof wat ontwikkel gegaan word en kliniese toetse sal wegspring vir twee kombinasiemiddels en een ander middel.

Ghebreyesus het tydens dié aankondiging belangrike punte gemaak: “Klein waarnemingstudies en nie-ewekansige studies sal nie vir ons die antwoorde gee wat ons nodig het nie. Om ongetoetste medikasies te gebruik sonder die regte bewyse, kan vals hoop skep en selfs tot meer skade as hoop lei. En boonop ‘n tekort aan noodsaaklike medikasie veroorsaak om ander siektes mee te behandel.”

Dit is ongelukkig reeds besig om te gebeur. “Ons erken daar is ‘n desperate behoefte vir doeltreffende terapeutiese middels. Daar is tans geen behandeling wat bewys is dat dit doeltreffend is teen Covid-19 nie,” het hy gesê.

Hy kon hiermee, sonder om hom op die naam te noem, na pres. Donald Trump van die VSA verwys het. Trump het onder meer onsinnighede kwytgeraak oor die voorskrifmiddel chlorokien (chloroquine) of hidroksichlorokien (hydroxychloroquine) wat vir malariavoorkoming en -behandeling is, asook vir die behandeling van lupus, rumatoïede artritis en ‘n tipe porfirie wat die bloed aantas.

Trump het die middel opgehemel asof dit ‘n kuur vir Covid-19 is – die een waarop die wêreld wag. Hy het beweer Amerika se medisynebeheerraad, die Federal Drug Administration (FDA), het “maande en maande se werk” vinnig laat geskied en dat die middel pas teen Covid-19 goedgekeur is.

Dit was ‘n leuen – nié die middel of enige ander is goedgekeur in die VSA of enige ander land vir die behandeling van Covid-19 nie. Net die simptome kan behandel word

Kort ná Trump se aankondiging het die FDA ‘n verklaring uitgereik om die vure te probeer doodslaan deur te beklemtoon dié middel is nié goedgekeur nie. Stephen Hann, kommissaris van die FDA, het onder meer gesê: “Ons moet toesien dat die produkte doeltreffend is, anders is daar die risiko dat mense ‘n produk gebruik wat nie werk nie, terwyl hulle dalk ander, meer toepaslike behandelings kon gevolg het.”

Kwaksalwer en twakprater versus 44 entstofprojekte

Trump het ook gesê: “Dit goeie deel is, dit is al so lank hier, ons weet as dinge nie gaan soos beplan nie, sal dit niemand doodmaak nie.” Intussen het drie mense in Nigerië in die hospitaal beland nadat hulle ‘n oordosis medikasie geneem het, en ‘n man in die VSA is dood toe hy tablette waarmee vistenke skoongemaak word, gedrink het. Chlorokienfosfaat kom daarin voor.

Om te verstaan waarom spesifieke kandidaat-entstowwe en ander middels op die tafel is, moet ‘n mens eers die virus se aard verstaan. Sy naam: ernstige akute respiratoriese sindroom-coronavirus-tipe-2 (Sars-CoV-2). Die siekte wat hy veroorsaak: Covid-19.

Op die ronde virus se oppervlakte sit daar proteïene wat soos stekels lyk. Dit vorm uitstulpings wat soos krone al om die virus lyk – vandaar die naam corona (kroon). Dié stekels bind aan menslike selle deur ‘n spesifieke reseptor en sluit die deur vir die virus oop om selle binne te dring. Die spesifieke reseptore kom die meeste in mense se longe voor. Daarom dat dit ‘n respiratoriese siekte veroorsaak en ook waarom dit ernstig opgeneem moet word, want tot 20% van mense ly aan een of ander vorm van asemnood.

Die WGO het nog nie die ontwerp van sy kliniese studie vir ‘n entstof bekend gemaak nie, maar as ‘n mens na Ghebreyesus luister, gaan dit dalk ‘n groot en beheerde ewekansige studie wees. Een waar nie die studieleiers of die deelnemers sal weet wie kry die entstof en wie die plasebo nie.

Wêreldwyd was daar dié week 44 projekte besig om aan ‘n entstof te werk. Dr. Seth Berkley, die uitvoerende beampte van Gavi, the Vaccine Alliance, het Woensdag ‘n beroep op lande en wetenskaplikes gedoen om eerder saam te staan. Daar moet een kandidaat-entstof gekies word, die beste een om uiteindelik op groot skaal vervaardig te kan word. Dit vereis Groot Wetenskap, wat eerder onder die WGO moet val. Leiers van die G7 en G20 asook die Wêreldbank sal moet saamstaan. Dit verg ‘n politieke besluit, want ‘n pandemie op hierdie skaal, wat soveel lewens en broodwinners en ekonomieë affekteer, vereis dit. 

Amerika gaan intussen voort met sy eie kliniese toets. Vandeesweek het Fase I in Seattle begin. Altesame 45 gesonde mense tussen 18 en 55 jaar sal ‘n kandidaat-entstof – ontwikkel deur Moderna Therapeutics en die National Institute of Allergy and Infectious Diseases – oor die volgende ses weke ontvang. Pas nadat die genetiese samestelling van die virus deur Chinese wetenskaplikes gekarteer is, het dié span begin werk met boodskapper-RNS. Indien dié toetse slaag en dit word goedgekeur, sal dit die eerste RNS-entstof tot nog toe wees.

Konvensionele entstowwe gebruik gewoonlik onaktiewe organismes of proteïene wat deur die patogeen (die virus of bakterieë) gemaak word. Dié antigene werk deur die patogeen na te boots. Dit stimuleer die liggaam se immuniteitstelsel om teenliggaampies en T-limfosiete te maak. So is jy gereed vir wanneer jy siek word, maar jy word nie siek van die entstof self nie.

RNS-entstowwe, wat almal nog in die navorsings- en toetsproses is, is soos die naam aandui, geneties van aard. Een van die groot rolle van die liggaam se RNS is om as boodskappers te dien, aldus die Universiteit van Cambridge se PGH-stigting.

So ‘n entstof bevat dus ‘n string RNS wat gekodeer word vir ‘n spesifieke siekte se antigeen. Sodra dit in die liggaam is, gebruik die selle die inligting van die gekodeerde RNS om die antigeen te maak, wat dan op die oppervlak van die selle vertoon word. Dan kan die immuniteitstelsel dit herken en tot aksie oorgaan, sodra die ware Jakob hom aanval.

Die buiteperd 

Wat as die entstof teen tuberkulose, Bacillus Calmette-Guérin (BCG), wat byna 100 jaar gelede ontwikkel is teen ’n bakterie, die immuniteitstelsel ‘n groot hupstoot kan gee? Hoewel entstowwe gewoonlik ‘n spesifieke teiken het om teenliggaampies voor te maak, is daar kenners wat dink BCG kan ons beskerm teen tot 30% van alle infeksies van patogene, binne die eerste jaar nadat jy dit gekry het. Ook virusse.  Dit sal dalk nie die virus elimineer nie, maar dit kan dalk net help.

Daar is nou vier groepe wat dit ondersoek. Die studies gaan gedoen word onder dokters, verpleërs en ouer mense omdat hulle kanse groter is om die virus op te doen, en omdat die entstof soveel jare lank al veilig aan mense toegedien is.

Moontlike medikasies

Die WGO se Solidarity-program gaan ook die volgende middels ondersoek: remdesivir; chlorokien en hidroksichlorokien; ritonavir/lopinavir; en ritonavir/lopinavir met interferon-beta. Die middels is nie sommer jou gewone oor-die-toonbank-pille nie, daarom vereis dit behoorlike studie. Dit is wat die portuurevaluasie-navorsing, die bewese wetenskap, tans oor die middels sê:

Remdesivir

Dié eksperimentele antivirale middel is in 2018 teen Ebolavirussiekte getoets en dit het geen effek getoon nie, maar twee ander middels het wel. Dokters het dit aan die heel eerste pasiënt wat in die VSA in die hospitaal met Covid-19 beland het, gegee en as ’n gevallestudie in The New England Journal of Medicine beskryf. Toe hy op die sewende dag longontsteking gekry het, is dit aan hom toegedien, waarna sy toestand verbeter het.

Remdesivir word met ‘n infusie by ‘n hospitaal toegedien, maar slegs in sekere omstandighede. Dit is dus nie ‘n ideale middel wat jy aan duisende kan uitdeel met matige simptome nie. En dit is boonop duur. Ander studies het gewys dit lyk belowend omdat dit die virus in sellyne in die laboratorium (in vitro) suksesvol geïnhibeer het.

Hoe werk dit? Dit blokkeer RNS-polimerase. Dit is ‘n ensiem wat die DNS-genereeks kopieer gedurende die transkripsieproses. Dus, wanneer dié belangrike proses gestop word, kan die virus nie in die liggaam vermeerder nie. Die middel is nie algemeen beskikbaar nie omdat dit nog eksperimenteel is. Maar spesialiste kan in sommige gevalle wel iemand behandel om menslikheidsredes deur daarvoor aansoek te doen.

Chlorokien en hidroksichlorokien

Beide die middels gaan nou deur die WGO in kliniese toetse ondersoek word nadat aansienlike aandag daarop gevestig is. Dit kom nadat kenners weer vorige navorsing bekyk het; dié is gedoen met die uitbreking van die ernstige akute respiratoriese sindroom (Ears of Sars). Die werk is in selkulture van primate gedoen en het getoon dit kan as behandeling en voorkoming belowend wees. Ander studies het dieselfde gewys – dit inhibeer Covid-19 in selkulture.

Hoewel dit dekades gelede goeie nuus was toe Chlorokien ontdek is, is dit hoegenaamd nie soos om aspirien te drink nie. Daar is ongemaklike newe-effekte in albei middels, en ‘n oordosis van die pille is dodelik. Sekere mense, soos swanger vroue, kan nie die middel neem nie.

Daarom is Trump se uitsprake, sonder enige waarskuwings, bloot onverantwoordelik en het dit reeds gelei tot tekorte vir mense wat dit werklik benodig.

Chinese wetenskaplikes het berig hulle het 100 mense daarmee behandel, maar nie hul data gepubliseer nie. Die handvol studies wat wel gedoen is om mense met die virus hiermee te behandel, is nog te klein om enige wetenskaplike afleidings daarvan te maak of mense vals hoop te gee.

Hoe werk dit? Die middel dring klein kompartemente in die selmembrane binne. Dié staan bekend as endosome. Endosome is effe suur, maar die chemiese samestelling van die middel verander die pH en maak hulle meer van ‘n basis. Die virus maak die endosome suurder sodat dit kan inkom, stel sy genetiese materiaal vry en begin vermeerder. Hierdie middel stop egter die proses.

Ritonavir/lopinavir

Hierdie is ’n kombinasiemiddel – ‘n antivirale een teen MIV – wat nou in ‘n groot kliniese studie spesifiek vir die behandeling van Covid-19 getoets sal word. Sowel lopinavir as ritonavir inhibeer die MI-virus, en daar word gehoop die effek sal dieselfde wees met die coronavirus.

In ‘n studie wat in China onder mense wat siek was met Covid-19 gedoen is, kon daar nie ‘n voordeel gesien word nie. Tog, die mense was baie siek en 20% van hulle is uiteindelik dood, maar dalk het hulle die middels te laat ontvang. Verdere studie is nodig. Soos alle middels in hierdie klas is daar ‘n lang lys newe-effekte en ander middels wat jy nie daarmee saam kan neem nie.

Hoe werk dit? Die middel is ‘n protease-inhibeerder. Protease is ‘n ensiem wat gebruik word in die bou van nuwe proteïene. ‘n Protease-inhibeerder blok dié aktiwiteit. Die virus, wat ook strukturele proteïene het, word dan misvorm en kan nie die liggaam se selle binnedring nie.

Ritonavir/lopinavir met interferon-beta

Hierdie studie wil die moontlike voordele van dié kombinasiemiddel teen MIV saam met ‘n derde middel toets. Interferon-beta is die middel (inspuiting) wat die langste in gebruik is om verligting te bring vir veelvuldige sklerose.

Hoe werk dit? Die liggaam maak drie verskillende tipes interferone – alfa, beta en gamma – wat betrokke is by die aktiwiteit van die immuniteitstelsel. Interferon-beta het ‘n anti-inflammatoriese effek.

Die bloed van ander mense

‘n Ander moontlikheid is die gebruik van die bloedplasma van mense wat reeds van die siekte herstel het, berig Nature News. Dit behels die bietjie bloed wat teenliggaampies het, vervaardig deur die immuniteitstelsel. Herstelplasma, soos dit genoem word, asook hiperimmuun globulien, is ryk aan teenliggaampies en kan moontlik die impak wat die siekte op ‘n pasiënt het, verlaag.

Met Sars en Ebolavirussiekte het dit ‘n matige effek getoon. Die mense wat as skenkers gekies word, moet boonop baie teenliggaampies hê en hul bloed moet geskandeer word vir ander siektes. Die voordeel is dat dit dadelik beskikbaar kan wees. Dit is nie ‘n kuur nie, maar kan verligting bring.

Wag en kyk, en SA navorsers se rol

Prof. Eric Decloedt van die afdeling kliniese farmakologie aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe antwoord soos volg op die vraag of mense bloot moet wag en kyk rakende potensiële nuwe middels. “Ja. Die wetenskaplike data vir die doeltreffende behandeling van Covid-19 bestaan nie tans nie. Nietemin, daar is talle studies aan die gang om die verskeie behandelings vir doeltreffendheid te toets.”

Waarom neem dit so lank om ‘n entstof en medikasies te ontwikkel? “Die ontwikkelingsproses vir enige medikasie neem baie jare. Middels moet verskeie stadiums van toetsing volg, van voorkliniese modelle in diere, tot uiteindelik toetse in mense. Wat entstowwe betref: Die virus kan aanhou om te muteer en aan te pas, wat die ontwikkeling daarvan baie uitdagend maak,” sê hy.

Suid-Afrika het ‘n besonders goeie rekord met die toets van kandidaat-entstowwe en medikasie vir MIV en tuberkulose, asook talle kenners van internasionale statuur in virologie, immunologie, epidemiologie, mikrobiologie en geneeskunde.

Dr. Alfred Thutloa, hoof van kommunikasie aan die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR), sê die land steun die WGO se entstofproewe. Indien ons gevra sou word om deel te wees hiervan, sal ons; daar is reeds aktiewe gesprekke met die WGO.

Die departement van wetenskap en innovasie het R4 miljoen beskikbaar gestel vir navorsing wat met Covid-19 verband hou. Die SAMNR het ook R8 miljoen beskikbaar gestel om te help met waarneming by vyf hospitale en nog R5 miljoen vir genoomkartering by die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios).

Optrede nou gaan die toekoms bepaal

Dit is nié ’n bloedtoets of een van die maklike toetse wat sommer in ‘n dokter se spreekkamer gedoen kan word nie. Die toets vir Covid-19 – bekend as ‘n polimerase kettingreaksie-molekulêre toets – is ‘n redelik gesofistikeerde genetiese toets wat gedoen word nadat ‘n depper in ‘n mens se neus of keel gevee is.

Tydens die toets word die virus se genetiese reeksbepalings “versterk” sodat dit raakgesien kan word. Die toets kan egter net die virus opspoor indien iemand dit onder lede het, nie indien hy/sy reeds daarvan herstel het nie.

Nios het ‘n toetsprotokol daargestel, weke voordat die eerste geval hier bevestig is. Almal word nie voor die voet getoets nie; slegs mense wat aan sekere diagnostiese maatstawwe voldoen, soos dié wat siek is en dié wat kontak gehad het met mense wat siek is.

Dr. Maria van Kerkhove, tegniese hoof van die WGO se noodeenheid, sê: “Dit is noodsaaklik dat lande toets sodat hulle weet waar al die gevalle is en die mense isoleer. Dit is waarvoor die staat van inperking daar is – dit koop tyd. Wend jou werksmag in dié tyd korrek aan om al die gevalle te vind sodat jy dit kan verminder van ‘n uitbreking na ‘n klomp mense na individue.”

Almal is onseker. Dalk gaan dit slegter voordat dit verbeter. Baie slegter. Maar vandag is niemand op die planeet van 7.8 biljoen mense alleen nie. Ons is dalk ingeperk, maar nie alleen nie.

 “Ons het voorheen vele pandemies en krisisse oorkom,” het Ghebreyesus Woensdagaand gesê. “Ons sal die een ook oorkom. Die vraag is hoe groot die prys is wat ons gaan betaal.

“Hoeveel meer lewens geëis gaan word, word bepaal deur die besluite wat ons nou neem,” het hy benadruk.